Griekse lamspasta
Resep deur Herman Lensing
Herman sê: “ ’n Lekker anderste manier om maalvleis te gebruik. Jy kan ook beesmaalvleis gebruik vir ’n goedkoper opsie.”
Genoeg vir 4-6
30 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
2 takkies origanum, fyngekap
500 g lamsmaalvleis
50 g-sakkie tamatiepasta
400 g-blik tamatiepuree
sout en varsgemaalde swartpeper
400 g strikdaspasta
4 wiele fetakaas, gekrummel
200 g ontpitte groen olywe
Verhit die olyfolie tot warm in ‘n groot pot. Voeg die uie, knoffel en origanum by en braai tot die uie deursigtig raak, vir sowat 2-3 minute.
Voeg die maalvleis by en verhoog die hitte. Roerbraai tot die vleis ‘n korrelrige tekstuur bereik en begin verbruin, vir sowat 8-10 minute.
Voeg tamatiepasta by en braai nog 2 minute. Voeg die puree by en meng deur. Verlaag die hitte en laat prut vir 10-15 minute of tot ’n geurige vleissous vorm.
Geur goed met sout en peper. Terwyl die sous kook, maak die pasta gaar volgens die aanwysings op die verpakking. Dreineer. Voeg die pasta by die sous en meng deur. Skep op ‘n dienbord en besprinkel met feta en olywe. Sit voor.