Panzanella-slaai met bloubessies
Resep deur Herman Lensing
Herman sê: “Dié slaai uit Toskane Italië is een van my staatmakers wanneer ek min tyd het, maar iets baie lekker wil voorsit. In kort is dit gister se brood wat nuwe lewe kry saam met tamaties. Die bloubessies gee lekker nuwe lewe.”
Genoeg vir 6
90 ml olyfolie
2 ansjovis-filette, fyngekap
1 cm gemmer, fyngerasper
30 ml korrelmosterd
30 ml rooiwynasyn
30 ml heuning
1 groot suurdeegbrood (of enige ander brood van jou keuse)
350 g kersietamaties, gehalveer
200 g vars bloubessies
300 g vars mozzarella-balle
hand vol basilieblare
Maak eerste die slaaisous deur helfte van die olyfolie, ansjovis, gemmer, mosterd, asyn en heuning met ‘n staafmenger (stick blender) te verwerk tot ‘n gladde sous. Geur goed met sout en peper en hou een kant. Verhit die res van die olyfolie in ‘n braaipan. Breek die brood in growwe stukke en braai in warm olie vir 2 tot 3 minute of tot goudbruin en bros. Pak die tamaties en bessies in ‘n slaaibord. Breek die mozzarella in growwe stukke en strooi oor. Skeur die basilieblare in growwe stukke en pak op die slaai. Pak die gebraaide brood bo-op. Skep die slaaisous oor en sit voor.