Bloubessie-plaatkoekies met jogurt
Resep deur Herman Lensing
Herman sê: “Elke nou en dan maak ek oor ’n naweek groot ontbyt en gereeld is dié plaatkoekies op die spyskaart. Dis veral lekker om die kinders te kry om te help.”
Genoeg vir 24
140 g (250 ml) koekmeel
5 ml bakpoeier
3 ml kaneel
’n knypie sout
90 ml strooisuiker
1 eier
20 ml kanola-olie, plus ekstra vir braai
190 ml karringmelk
40 ml water
200 g vars of bevrore bloubessies
jogurt vir voorsit
heuning of gouestroop vir voorsit
Sif die meel, bakpoeier, kaneel en sout saam in ‘n mengbak. Voeg die strooisuiker by. Klits die eier, olie, karringmelk en water saam. Voeg by die droë bestanddele en meng tot ‘n gladde beslag. Voeg die bloubessies by en meng deur. Smeer ‘n braaipan met ’n bietjie olie en laat dit goed warm word. Skep eetlepels vol beslag in die pan. Bak vir so ’n minuut per kant. Jy weet dit is reg vir omdraai as die oppervlak vol borrels is. Sit voor met jogurt en heuning of gouestroop.