Regte groen Thaise kerrie
Resep deur Herman Lensing
Herman sê: “Retha Joubert het dié resep vir my gegee toe ek onlangs in die Rosestad gekuier het. Sy vertel my sy het baie probeerslae gehad voor sy by die perfekte weergawe uitgekom het. Hier is hy en dit is heerlik!”
Genoeg vir 6
5 knoffelhuisies
2 uie, grofgekap
1 x 5 cm-stuk gemmer, geskil en grofgekap
4 groen brandrissies (of na smaak), grofgesny
15 ml fyn komyn
hand vol vars koljander
30 ml vissous
45 ml olyfolie
12 hoenderborsies sonder vel (of ontbeende dye), in blokke gesny
1 x 410 g-blik klappermelk
250 ml hoenderaftreksel
sout en varsgemaalde swartpeper
sap en gerasperde skil van
2 suurlemoene (of na smaak)
Plaas die knoffel, uie, gemmer, brandrissies, komyn, koljander en vissous in voedselverwerker en verpulp by ‘n hoë spoed tot glad. Verhit die olyfolie in ‘n groot pot tot warm en gooi die uiepuree by die olie. Roerbraai vir 2 tot 3 minute. Voeg die hoender by en braai vir nog 2 minute. Voeg die klappermelk en aftreksel by en meng deur. Verlaag die hitte en laat stadig prut tot die hoender sag en gaar is – sowat 20 minute. Verwyder van die hitte en geur goed met sout en peper. Roer die suurlemoensap en -skil deur en sit voor met wit rys.