Bone-en-varkbredie met gremolata
Resep deur Herman Lensing
Herman sê: “Winter of somer, maak nie saak nie, ek geniet ’n bredie. Vat die kortpad met jou stoompot en jy het binne minute kos op die tafel.”
Genoeg vir 6
1,2 kg ryp, vars tamaties
sonneblomolie vir braai
1 kg varklies repe, vel verwyder en stukke gesny
1 ui, fyngekap
2 preie, gesny
2 ml fyn gemmer
3 kardemomsade
5 ml koljandersade
6 peperkorrels
7 ml vinkelsade
7 ml droë tiemie
3 knoffelhuisies
1 rooi brandrissie
200 ml witwyn
15 ml suiker
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
15 ml blatjang
12 x 410 g-blikke botter bone, gedreineer
Dompel die tamaties in kookwater. Laat staan vir so 3 minute. Verwyder die skil en sny in kwarte. Verhit die sonneblomolie in ’n groot stoompot tot warm. Braai die vleis mooi bruin. Voeg nou die ui en preie by en braai ook tot lekker bruin. Kap die gemmer, kardemom, koljander, peper, vinkel, tiemie, knoffel en brandrissie saam in ’n vysel tot ’n pasta. Gooi die pasta by die vleis en meng goed. Voeg die tamaties, wyn en suiker by en geur met sout en swartpeper. Maak die pot toe met deksel en bring tot volstoom. Laat stoom vir 1 uur. Laat stoom uit die pot. Voeg die blatjang en botterbone by en meng deur. Sit voor in ‘n mooi opdienbak van jou keuse. Geniet! Sit bredie voor met rys en gremolata (sien onder).
GREMOLATA
fyngerasperde skil van 2 suurlemoene
4 knoffelhuisies, fyngekap
2 hande vol pietersielie, fyngekap
Meng al die bestanddele goed en besprinkel oor ‘n gereg van jou keuse.