Spaghetti carbonara met olywe
Resep deur Herman Lensing
Herman sê: “Die hitte van die warm spaghetti maak die eiergele gaar en vorm so ’n romerige sous.”
Genoeg vir 6
45 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
3 knoffelhuisies, gekap
250 g spek, fyngekap
170 g swartolywe, ontpit
110 g bevrore ertjies
1 hand vol pietersielie, gekap
sout en varsgemaalde swartpeper
250 ml room
100 g parmesaankaas, fyngerasper
4 eiergele
500 g spaghetti
6 eiers
Verhit die olyfolie tot warm in medium-groot pan. Voeg die ui en knoffel by. Braai vir 3 tot 5 minute of tot dit begin verbruin. Voeg die spek by en braai verder vir 5 minute. Voeg die olywe, ertjies en pietersielie by. Braai vir 5 minute. Geur goed met sout en peper. Maak die pasta gaar volgens die instruksies op die verpakking en dreineer. Meng die room, parmesaankaas en eiergele tot die gladde mengsel. Voeg dit by die warm olyf-en-spek-mengsel. Gooi dadelik die roommengsel by en meng goed. Bring water tot kookpunt en plaas heel eiers in die pot. Kook 6 minute tot sag of langer nes jy dit verkies. Dop die eiers af. Skep die pasta in ‘n opdienbord. Halveer die eiers en plaas bo-op. Sit warm voor.