Suurlemoen-meringuetert
Resep deur Herman Lensing
Herman sê: “Hierdie vulsel vra vir vars suurlemoensap wat jy self uitdruk. Moet nie die kortpad vat nie!”
Genoeg vir 1 tert
Kors
200 g vanieljekoekies, fyngekap
100 g botter, gesmelt
Suurlemoensmeer
250 ml vars suurlemoensap
4 eiers
2 eiergele
60 g (50 ml) suiker
knippie sout
350 g koue botter
Switserse meringue
4 eierwitte
70 g (90 ml) suiker
1 ml sout
Kors
Meng die koekies en botter saam. Voer ‘n tertpan uit met die krummelmengsel en druk stewig vas.
Suurlemoensmeer
Maak ’n dubbelkoker met ’n klein kastrol en glasbak wat maklik op die kastrol se rand pas. Gooi sowat ’n kwart van die kastrol vol water en plaas dit oor ‘n matige hitte. Plaas die suurlemoensap, eiers, eiergele, suiker en sout in glasbak en begin dadelik klits met ’n draadklitser. Klits aanhoudend totdat die mengsel gaar en dik word, sowat 8 tot 10 minute. Sodra die mengsel gaar is, verwyder van hitte en gooi in ’n koue bak. Sny koue botter in stukkies en gooi een vir een by mengsel. Verwerk die mengsel deurentyd met staafmenger tot al die botter bygevoeg is. Giet die suurlemoensmeer in die tertkors en smeer gelyk. Plaas vir 1 uur in yskas om te stol.
Meringue
Plaas die eierwitte, suiker en sout in die bak van ‘n staanmenger. Plaas oor ‘n kastrol met pruttende water: Die bak moet nie aan die water raak nie. Klits die mengsel aanhoudend met ’n ballonklitser terwyl die bak op die kastrol rus. Verhit tot mengsel tot dit warm is (dit moet jou vinger brand) en die suiker opgelos het. Plaas die bak in ‘n staanmenger en klits by ‘n hoë spoed tot stywe, blink punte vorm. Skep ’n groot meringue-wolk bo-op die suurlemoenvulsel of spuit rosette met ’n spuitsak. Brand tot goudbruin met kombuisblaasvlam. Sit voor.
Wenk
Rasper suurlemoenskil oor die meringue nadat jy dit met die blaasvlam gebrand het. Dit gee ekstra geur.